Documents
Results 1 - 10 of 10
|
General/General
Author:Administrator
The need grew in our Department of Practical Theology at the University of Pretoria to identify a research gap in the vast and, in certain instances, over-researched field of HIV-AIDS, and then to pose a research question which might provide a particular angle to our project. The result was the formulation of a research proposal as outlined on this site, as well as the establishment of an international, inter-university, inter-disciplinary, inter-geographical and intercultural team of research collaborators.
|
|
General/General
Author:Administrator
Hierdie diens word aangebied sonder enige pretensie dat dit 'n sielkundig-terapeutiese diens is. Julian Müller is opgelei as pastorale terapeut en praktiseer as sodanig. In hierdie veld lei hy ook studente op tot op doktorale vlak. Die benadering wat gevolg word is narratief-terapeuties en pastoraal. Wanneer nodig werk hy ook in spanverband saam met ‘n sielkundige en hy doen ook verwysings na ander professionele persone.
Van sy dienste kan gebruik gemaak word, deur een van die volgende twee weë te volg:
'n Afspraak te maak by die sekretaresse, Catherine 012 4202669. Om gebruik te maak van die privaat gesprek sisteem. DIe proses is eenvoudig: a.) registreer, b.) teken in en begin 'n privaat gesprek. Vir verdere navrae en inligting stuur 'n epos na...julian.muller@up.ac.za
|
|
Sermons/New Testament
Author:Julian Müller
?-GROEP (VALLEISIG)
30 OKTOBER 2008-10-30
GAAN NET CHRISTENE HEMEL TOE?
Dit is ‘n vraagtekengroep en ek het net 10 minute. Daarom vra ek eintlik net vrae. Daarna voer ons gespek daaroor.
1. As mens die vraag vra, waarom vra jy dit –
a. omdat jy werklik besorg is oor mense en wat van hulle word?
b. Omdat jy besorg is daaroor dat mense dalk onregverdiglik in die hemel sal beland?
c. Omdat jy besorg is daaroor dat Jesus dalk nie die enigste Seun van God is en as sodanig die Weg en die Waarheid en die Lewe is nie?
d. Omdat jy besorg daaroor is God dalk te toegeeflik met party mense sal wees?
2. Is ons bewus daarvan dat hierdie vraag al eeue oud is?
3. Vra jy die vraag omdat nie een van die tradisionele antwoorde jou bevredig nie?
4. Is jy bewus van die tradisionele antwoorde, nl die antwoord van die
a. Eksklusiwiste wat op grond van Joh 14:6 glo dat net Christene hemel toe gaan;
b. Universaliste wat glo dat alle godsdienste gelyk is en soos verskillende paaie uiteindelik die bergpiek sal bereik;
c. Inklusiwiste wat glo dat alle mense, selfs onbewustelik ingesluit is in die genade wat daar in Christus is (Roomse standpunt).
5. Vanuit watter van hierdie posisies vra jy die vraag?
6. Aangesien die meeste protestanse gelowiges hulle by die eerste standpunt skaar, moet ons ook ‘n paar vrae vra oor Joh 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
a. Verstaan jy daardie teks as ‘n slagspreuk of as ‘n vertroosting?
b. Waarom dink jy, staan die uitspraak net in die Johannes Evangelie en nie ook in die ander nie?
c. Wat sou die verband wees tussen hierdie “Ek is”-uitspraak en die ander in Johannes?
d. Moet mens dalk hierdie uitspraak(e) verstaan teen die agtergrond van
i. Vir wie?
ii. Waarom?
Johannes dit geskryf het?
Die Evangelie volgens Johannes word teen ongeveer die einde van die eerste eeu geskryf. Dit is ‘n tyd waarin die volgelinge van Jesus verwerping en skorsing uit die sinagoges ervaar. Teen hierdie agtergrond is die “Ek is”-uitsprake bedoel om te verseker en te troos. Dieselfde God wat in die brandende bos aan Moses verskyn het en gesê het “Ek is”, is die Een wat weer in Jesus verskyn as die “Ek is” Johannes plaas 7 van hierdie ek-is uitsprake in Jesus se mond om daarmee te bevestig dat God deur Jesus met hulle praat
· Ek is die brood van die lewe (6:35)
· Ek is die lig vir die wêreld (8:12)
· Ek is die deur vir die skape (10:7)
· Ek is die goeie herder (10:11)
· Ek is die weg…(14:6)
· Ek is die wynstok (15:5)
· Ek is die opstanding (11:25).
e. Moet ‘n men’s nie in die lig van hierdie agtergrond nie die teks eerder verstaan as ‘n woord van troos en bemoediging vir die Jesus-volgelinge dat dit inderdaad God is wat deur en in Jesus na hulle toe gekom het?
f. Dat dit nie ‘n teks is wat saam met die ander bedoel was om slagspreuke te wees wat eksklusiwiteit proklameer nie, maar ‘n teks wat die gawe en genade wat daar in Jesus is wou onderstreep.
7. Laaste vraag: Is dit ‘n Christelike vraag om te vra? Ek vra die vraag in die lig van twee oorwegings:
a. By Jesus se boodskap pas ruimheid eerder as eksklusiwiteit. Vgl Joh – in die huis van my Vader is daar baie woonplek..
b. In hierdie Ek-is uitsprake is dit juis die NOU wat beklemtoon word. Die vraag is nie wat kan ek eendag bereik met Jesus nie, maar wie en wat is Jesus nou vir my?
|
|
Sermons/New Testament
Author:Julian Müller
Kersfees as agtergrondmusiek?
Pretoria-Oos, 21 Desember 2008
1. Begin met die speel van die lied “7 O’Clock News/Silent Night” – Simon and Garfunkel (opname van 1966)
2. Lied is ontnugterend. Mens is half-kwaad vir die kunstenaars. Om die paradoks so in ons gesig te sit!
3. Die nuusbulletin (1966)praat van:
a. Oop behuising in die Civil Rights Bill en ‘n toutrekkery daaroor.
b. Lenny Bruce, die komediant, wat dood is aan ‘n oordosis pille
c. Dr Martin Luther King wat ‘n besoek aan Chicago beplan.
d. Nege verpleegsters wat vermoor is.
e. Richard Nixon wat die Vietnam oorlog verdedig en dan sluit die nuus af met ‘n aanhaling van Nixon: “Opposition to the war in this country is the greatest single weapon working against the U.S.
4. Op die agtergrond sing hulle ‘n weergawe van lied “Silent Night”
Silent night
Holy night
All is calm
All is bright
Round yon virgin mother and child
Holy infant so tender and mild
Sleep in heavenly peace, sleep in heavenly peace.
5. Die kerslied/kersverhaal/kersboodskap voorsien romantiese, baie rustige agtergrondmusiek waarteen die verskriklike wêreldgebeure afspeel. Maar dit bly ongeïntegreerd. Twee tekste; twee stelle woorde wat deur vernuftige kunstenaars in een lied saamgevoeg word.
6. Maar ons kan daarmee identifiseer. Hulle gee gestalte aan ons eie ervaringe:
a. In ons eie koppe draai daar ook in hierdie dae ‘n kerslied, terwyl ons elkeen worstel met ons eie “7-uur nuus”
b. Terwyl ek aan hierdie preek voorberei het daar sommer binne ‘n paar dae drie “nuusberigte” my lewe intens beïnvloed:
i. Skoonma is terminaal siek met kanker wat oral in haar liggaam versprei het. Sy’s te oud vir enige behandeling en word net versorg in die eenheid vir verswakte bejaardes. Ons sien hoe sy daagliks verswak.
ii. Charlie, ons Saterdae se tuinwerker, word by sy dagwerk eenvoudig afgedank – na 6 jaar diens. Geen rede word verskaf nie, maar ons weet hy as vreemdeling (Zimbabwe) het min regte om op te staan en dit is maklik om hom te laat gaan. Hy het ‘n vrou en kind en sit nou sonder werk.
iii. ‘n Goeie vriend van ons begin sleg voel terwyl hy op vakansie is en twee dae later moet hy ‘n 5-vat hartomleiding kry.
c. Teen die agtergrond van “Stille nag” gebeur daar vreeslike dinge. Ons het elkeen ons eie “7-uur nuus”. Elkeen wat vanoggend hier in die kerk is sal ‘n soortgelyke verhaal kan vertel.
d. En dan is daar nog die wêreldgebeure:
i. Honger mense in Zimbabwe. Cholera wat handuit ruk en ‘n desperate politieke situasie.
ii. Terroristeaanvalle in Mumbai
iii. Misdaad rondom ons – in ons winkelsentrums en in ons huise.
iv. Resessie in Amerika, Engeland en Japan.
v. Ekonomiese reuse (banke, motorvervaardigers) is bankrot en stort in duie.
e. Ons kan inderdaad identifiseer met Simon en Garfunkel se lied. Ons kan miskien vir ‘n oomblik ontvlug in ons kersvieringe, maar uiteindelik kom die nuus van konflik en krisis al harder van agteraf deur.
7. Dit is die werklikheid en dit is die waarheid van ons ervaringe ook in hierdie kerstyd. Wat maak ons met hierdie paradoks?
a. Een opsie is om dit te hanteer soos in hierdie lied. Die kersboodskap voorsien die sustende, vertroostende agtergrondmusiek, maar die twee tekste, wat twee wêrelde beskryf, bly apart – ongeïntegreerd.
b. Die Evanglie van Matteus bied ‘n ander opsie.
i. Matteus vertel die geboorteverhaal ook teen die agtergrond van die “7 uur nuus” van sy dag.
ii. Matteus skryf so ongeveer 10 jaar na Markus (80 nC)en maak van Markus as sy basisteks gebruik. Markus is die oudste Evangelie (ongeveer 70 n.C.). Skryf om antwoord te gee op die dramatiese gebeure van die verwoesting van die tempel in70 n.C. In sy Evangelie ontbreek die geboorteverhaal. Hy konsentreer op die kruisiging om daarmee te sê as alles rondom ons in duie stort is God ook daar, want Hy is teenwoordig - as die gekruisigde. Daarom gaan die hele Markus Evangelie eintlik oor hierdie aanloop na die lyding en kruisiging. Van Jesus.
iii. Toe Matteus 10 jaar later skryf, is die tye steeds baie moeilik en onseker. Die jong Jesusbeweging probeer om sy voete te vind te midde van politieke onstabiliteit en teenstand. Die Christene probeer identiteit vind. Is hulle veronderstel om Joods te wees en te bly? Is hulle die ware Israel of moet hulle heeltemal hulle rug op die Jode wat vir Jesus gekruisig het, keer?
iv. Die skrywer van die Matteus Evangelie vind dit nodig om die Markus teks te gebruik, maar ook aan te pas om vir sy tyd ‘n boodskap te voorsien. Een van die veranderinge wat hy aanbring is die geboorteverhaal met die geslagsregister wat hy aan die begin plaas.
v. Daarmee doen Matteus eintlik presies dieselfde as Simon en Garfunkel. Hy sit die kersverhaal by die “7-uur nuus”. Maar Matteus doen dit tog ook heeltemal anders as hulle
1. Die kersverhaal vorm nie net agtergrondmusiek vir die wêreldgebeure nie. Dit word ingeweef tot een teks. Dit bly nie twee afsonderlike tekste nie.
2. Hoe doen Matteus dit?
a. Hy begin met ‘n geslagsregister wat begin by Abraham. Daarmee verseker hy sy lesers dat hierdie Jesusbeweging die voortsetting is van die Judaïsme. Dis nie ‘n nuwe godsdiens nie. In Jesus leer ons die God van Abraham, Isak en Jakob ken. Maar in dieselfde asem trek hy ‘n streep deur alle Joodse eksklusiwiteit en meerderwaardigheid want hy voeg vier vroue van twyfelaftige karakter in die geslagsregister in. Hy geen nie net ‘n geslagsregister en gee bietjie mooi agtergrondmusiek daarby nie. Hy verander die geslagsregister (dit lyk byvoorbeeld anders as Lukas s’n) en hy interpreteer dit.
b. Verder vertel Matteus van ‘n probleem-swangerskap. Ons hoor gewoonlik net dat Maria op ‘n buitengewone manier swanger geraak het, maar as ons mooi lees, sien ons hoeveel trauma daar in daardie paar verse is. Josef is aan Maria verloof, maar hy’s nie die pa van die kind nie. Hy wil skei.
c. Dan vertel hy van vreemdelinge met vreemde gelowe – sterrekykers – wat ‘n sentrale plek inneem by die geboorte. Hulle kry eerste toegang tot die kraamsaal.
d. En hy vertel van politieke naywer en geweld: Herodes en die kindermoord.
3. Sien u wat doen Matteus? Matteus laat as’tware vir Jesus gebore word uit die “7uur nuus” uit. Hy gebruik nie die mooi kersverhaal om agtergrondmusiek te wees vir die verskriklike “7-uur nuus”nie. Hy maak Jesus deel van die “7-uur nuus”.
8. Die vraag waarvoor ons staan is: Word Jesus vanjaar gebore in ons “7-uur nuus”? of bly die geboorteverhaal net die agtergondmusiek terwyl ons maar met ons gewone lewe, net soos al die ander, aangaan?
a. Dring die boodskap van die geboorte van God my om op een of ander manier betrokke te wees by Charlie wat as vreemde Zimbabweer in Pretoria sy werk verloor? Of stel ek net die kersmusiek harder en sê: “Ag siestog, maar dis vreeslik”?
b. Gee die kersboodskap ook vir my die rus en vrede by die siekbed van ‘n geliefde, of bly ek ten diepste ongetroos en verwond terwyl die kerslied in die agtergrond maar net soos ‘n bietjie salf is?
c. Wat doen die kersboodskap aan my lus om te spandeer? Bring dit my tot nugterheid en verantwoordelikheid of voorsien dit net die agtergrondmusiek in die supermark sodat ek juis meer onverantwoordelik spandeer?
9. Die wyse waarop Matteus die “7-uur nuus” hanteer, daag ons uit om nie agtergrondmusiek vir ons verskriklike “7-uur nuus” te soek nie, maar om dit te herskryf. Om nie ons persoonlike/gesin of groep se geskiedenis te probeer ontken of vergeet nie, maar om God se spore daarin te ontdek. Om te midde van verwarrende gebeure (soos met die swangerskap van Maria, soos die rol wat vreemdelinge soms onverwags in ons lewe kom speel, soos politiek onstabiliteit en diktators wat nie omgee vir kindermoord nie) nie onsself daarvan af te skei nie, maar om nuwe betekenis in die krisis te soek. Om nie te skrik vir die vreemdelinge en sterrekykers nie, maar vir hulle toe te laat om ons te leer om te aanbid. Om nie moedeloos te raak deur politieke opportuniste soos Herodes nie, maar om te weet die Een wat ons by ons het, se naam is Immanuel - God is met ons, in ons “7-uur nuus”.
10. Dit is kersfees 2008. Ons ‘7 uur nuus” is erger as ooit. Ons groepie Christene staan voor die uitdaging om nie van die geboorteverhaal agtergrondmusiek te maak nie; om nie net net te sing van die geboorte van Jesus as ons grootste Kersgeskenk nie, maar om Jesus gebore te laat word binne in ons “7 uur nuus”. Mag ons daarvoor wysheid en genade vind!
|
|
Articles - Magazines/Beeld
Author:Julian Müller
Sedert die NG Kerk se voorlegging aan die Portefeuljekomitee van Binnelandse sake oor die wetlike reëling van permanente verbintenisse tussen mense (ook gay-verhoudings), is die knuppel behoorlik in die hoenderhok. Daar was ‘n stortvloed van berigte, artikels en briewe in die pers. Sommige voel hulle geroepe om ‘n betoog te lewer ter wille van die huwelik as ‘n goddelike instelling tussen een man en een vrou, terwyl ander weer hard verdedig aan die grondwetlike regte van alle mense, ook buite die tradisionele huweliksverhouding, om wetlike beskerming.
|
|
Articles - Magazines/Beeld
Author:Julian Müller
Idees oor God, denkbeelde van God en taal oor God is menslike maaksels. Dit het nie uit die hemel geval nie. Dit behels almal een of ander interpretasie van wat ons in die Bybel oor God te lese kry. En in die Bybel word ‘n verskeidenheid van beelde of metafore gebruik om oor God te praat. So vind ons in die Bybel die idee dat God ‘n Vader is, maar in Ps 131 ook die gedagte dat God soos ‘n Moeder is. Ons lees van God wat die hare van ons hoof getel het en in beheer van alles is, maar ook van ‘n God wat ‘n Lydende Kneg geword en soos ‘n Lam ter slagting gely word. Ons lees van God wie se naam Liefde is, en ons lees van ‘n God wat jaloers is en wat straf. En dit is maar enkele voorbeelde uit ‘n rykdom van beelde waarmee die ryke verskeidenheid van God beskryf word.
|
|
Articles - Magazines/Beeld
Author:Julian Müller
GELOOF EN BYGELOOF
Julian Müller
In my artikel oor godsdienstige verdonkering het ek die volgende geskryf:
Die gesonde verhouding tussen geloof en verstand moet behou word. Ons het opnuut behoefte aan bevryding van bygeloof. Ons moet weereens die vermoë ontwikkel om te onderskei waar dit op aankom en die moed van ons oortuiging te hê om manipulasie en goedkoop godsdienstige propaganda te verwerp en mense daarteen te waarsku.
Op Kletskerk het Blouwildebees daaroor die volgende te sê gehad:
Ek kon dit nie beter gestel het as Professor Müller nie. Tog vermoed ek ons verskil oor waar presies “bygeloof” ophou en “geloof” begin. Ek sou graag wou hoor waar die goeie Professor daardie lyn trek en op watter gronde.
Hierdie opmerking het my aangespoor en uitgedaag om verder oor die grens tussen geloof en bygeloof na te dink.
Bygeloof verwys na iets wat naby aan geloof is, maar tog daarvan verskil. Omdat dit naby aan mekaar lê kan dit maklik met mekaar verwar word en is dit moeilik onderskeibaar. Aan die ander kant is dit ook teenoorstaandes wat duidelik onderskei moet word. Die een, geloof, is positief en moet aangemoedig word; die ander, bygeloof, is negatief en moet teengestaan word.
Dit help waarskynlik om aan die hand van ‘n paar spesifieke voorbeelde hieroor na te dink:
Die doop
By die doop van kinders word dit van ouers verwag om te bely dat hulle hul kindjie ten doop bring “nie uit gewoonte of bygelowigheid” nie, maar op grond van hulle vaste geloof dat die kind reeds ingesluit is in die genadeverbond.
Dit lyk asof bygelowigheid in hierdie geval dui op die moontlike toekenning van en geloof in magiese kragte wat aan die ritueel van die doop gekoppel kan word. Soos byvoorbeeld ‘n geloof dat die doopwater in sigself krag het wat die kind beskerm teen die bose. Daarteenoor behels geloof in die doop as sakrament dat daar op God en die beloftes van God vertrou word. Geloof reik na die transendente wat gesimboliseer word in die ritueel. Bygeloof gee goddelike of dan magiese betekenis aan die water of die menslike ritueel as sodanig. Bygeloof kyk by God verby en vestig hoop op dinge wat menslikerwys bewerkstellig en gemanipuleer kan word.
Op reis…
Psalm 121 en ander “pelgrimsliedere” behels gebede met die oog op God se bewaring wanneer mens op reis is. Saam met die Psalmdigter kan mens byvoorbeeld bid dat God nie sal toelaat dat jy struikel nie (Ps 121:3). Dit is geloof om op God te vertrou vir beskerming op ‘n reis.
Maar wanneer ‘n mens ‘n bumpersticker sien met die woorde: “This vehicle is protected by the blood of Christ”, dui dit eerder op bygeloof. Dit veronderstel ‘n soort magiese band tussen die bloed van Christus en die voertuig as sodanig. Die vertroue is dan skynbaar nie op God nie, maar op een of ander kwaliteit wat iets bo-natuurliks (die bloed) aan die voertuig kan verleen.
Gebed
Op die terrein van gebed lê geloof en bygeloof waarskynlik die heel naaste aan mekaar.
Gelowige gebed stel vertroue op God. Dit is ‘n manier waarop die gelowige sy of haar versugtinge uitspreek en in die hande van God laat.
Wanneer gebed oorgaan in ‘n poging om God te manipuleer, beweeg dit op die terrein van bygeloof. Die bygelowige gebed vertrou nie op God nie, maar op die aksie of ritueel van gebed. Dan word gebed ‘n poging om God se arm te draai. Die klem verskuif van ‘n eenvoudige verwoording van behoeftes en versugtinge na ‘n opstapeling van woorde sodat God eintlik gedwing kan word om te luister. Die hoeveelheid mense wat bid en die hoeveelheid sms-boodskappe kry dan krag.
Ons hoef net te luister na Jesus se eie onderrig oor gebed in Matteus 6. Die Ons Vader word aangebeid as die modelgebed vir sy dissipels. Daarvolgens het jy net ‘n paar eenvoudige sinne nodig om met God te kommunikeer. Dit is heeltemal anders as die heidene se gebruik om met ‘n stortvloed van woorde te bid. Die gelowige gebed is eenvoudig en opreg en bied ‘n ruimte waar die mens in pas kan kom met God se wil.. Die bygelowige gebed is ‘n manipuleringsmiddel waarmee ‘n poging aangewend word om God se wil om te buig volgens menselike willekeure.
Daarom bied die gelowige se omgang met gebed ‘n bevryding van angs, teenoor die bygelowige omgaan met gebed onafwendbaar tot groter angs en spanning aanleiding gee. Want is alles afhanklik van die inset wat met gebed gemaak word, in plaas daarvan dat gebed die rus is wat voor die Aangesig van God gevind word.
Die Bybel
Juis omdat ons as Protestantse Christene onsself so sterk op die Bybel vestig, loop ons gevaar om die Bybel te verafgod en dan eintlik in die boek te begin glo. Die boek op sigself word dan heilig. Die grense tussen die Woord van God en die Bybel vervaag en die twee word doodgewoon gelyk gestel. As jy die boek open dan open jy daarmee God se Woord. Alhoewel hierdie soort taal soms van die kansel af gebruik word, moet dit tog bevraagteken word.
Hoewel ons glo en bely dat die Bybel die Woord van God is, moet ons ons daarvan weerhou om méér daarin te lees as ‘n gesagsuitspraak. Vir ons het die Bybel die hoogste gesag. Ons vind daarin die woorde van God. Maar ons durf dit nie een stap verder neem en ‘n gelykaanteken plaas tussen Bybel en Woord van God nie. As ons dit sou doen hoef ons nie meer gelowig en met verwondering God te soek en te ontdek in die Bybel nie. Dan beskik ons sommer klaar oor God se Woord.
Hier is daar ‘n baie fyn lyn tussen geloof en bygeloof. Ons belydenis oor die Bybel as die Woord van God moet organies en nie meganies nie verstaan word. God se woorde is nie op ‘n meganiese manier vasgevang in die sinne, woorde en letters en selfs in die papier en ink van die Bybel nie. So ‘n meganiese hantering kom neer op bygeloof. Die geloof, aan die ander kant, maak ruimte vir die misterie dat God op ‘n besondere manier met ons kommunikeer via die Bybel.
Die meganiese siening lei tot allerhande misbruike, soos om te glo dat jy goddelike leiding ontvang deur net die Bybel te laat oopval op enige plek. Dit is ‘n bygelowige omgaan met die Bybel want ons weet dat enige ander Bybel waarskynlik anders sou oopgeval het. Dit het te doen met die gewig van die papier, die manier waarop die boek vasgehou word en hoe dit gebind is. Om God aan sulke menslik-geproduseerde meganika te wil verbind, is doodgewoon bygeloof.
‘n Gelowige omgaan met die Bybel behels altyd ‘n verstandige bestudering en ‘n poging om dit te verstaan en so korrek moontlik vir ons tyd te interpreter. Daarteenoor probeer die bygeloof die verstandlike proses systap en betekenis vind sonder enige proses van interpretasie.
Geloof en verstand
Alhoewel geloof ‘n subjektiewe oortuiging behels is dit in sy suiwer vorm altyd oop vir bevraagtekening. Dit is nie bo kritiek verhewe nie. Mens kan met oortuiging glo, maar is ook tegelyk gewillig om daarvan op redelike gronde rekenskap te gee. Die bygeloof aan die ander kant, gaan verby subjektiwiteit en raak subjektiwisties. Dit maak aansprake en is nie gemaklik met kritiese bevraagtekening nie. Bygeloof verwag van ander om elke subjektiewe ervaring en die uitsprake op grond daarvan, bloot te aanvaar en nie te bevraagteken nie. Bygeloof is bang vir die rede en hou nie van kritiek nie. Geloof is ingebed in die geheel van menslike ervaring en daarom ook in die verstand.
Met die voorbeelde ingedagte kan mens dan sê dat geloof op God gerig is en hoop en vertrou op God se betrokkenheid in ons wêreld. Sodra dit skuif na meetbare en tasbare kategorieë met ‘n poging om God se krag en werking vas te vang en te beheers, word dit bygeloof.
Die grense tussen geloof en bygeloof is soms vaag. Tog is dit belangrik dat die geloofsgemeenskap steeds bewus bly van die gevaar dat geloof verwar kan word met bygeloof. En daarom is kritiese en openlike gesprek oor geloofservaringe noodsaaklik. Sodra die kritiese bevraagtekening verwerp word as ongeloof of kwaadwilligheid, is die bygeloof waarskynlik juis aan die toeneem.
|
|
Articles - Magazines/Beeld
Author:Julian Müller
DIE KERSTYD EN DIE SOEKENDE VERWONDERING
JULIAN MÜLLER
Een van ons mooiste eietydse kersliedere is Koos du Plessis se Welkom, o stille nag van vrede. Daarin sing ons van ‘n somerkersfees en dit voel onmiddellik veel nader aan ons ervaring van kersfees as ons tradisionle Europese liedere. Dit verwoord ook baie ingeburgerde konsepte en idees oor kersfees op ‘n baie treffende manier. Hoewel in moderne Afrikaanse idioom, praat dit van “eeue-oue taal”, van “die ou verhaal” en van die Seun as ons “grootste Kersgeskenk”. Ek kan nie help om te wonder oor hoe kommunikeer hierdie tradisionele konsepte, selfs in ‘n meer moderne lied, met die postmoderne mens van vandag nie. Hou die kersverhaal en die kersgebruike die geloof lewend of word die geloof juis verdryf deur die nostalgie en die geykte konsepte?
Die mens van vandag het afskeid geneem, of is besig om afskeid te neem van ‘n supra-naturalistiese goddelike wese. Hierdie afskeid vind nie altyd op die bewustelike vlak plaas nie. Dit sluip in en sonder dat ons dit besef, is ons besig om anders oor God te dink as in die verlede. Ons vind dit toenemend moeilik om in ‘n soort ruimtereisiger-God te glo – ‘n God wat iewers op ‘n troon sit en van ver af die wêreldgebeure van dag tot dag bestuur; ‘n Hemelse wese met wie ware kontak eintlik nie moontlik is nie; ‘n God wat ligjare van ons verwyder is.
Sedert Copernicus en Galileo het die besef geleidelik ingedring dat daar nie meer oor God binne die formasies van die primitiewe wêreldbeeld gedink kan word nie. Die drielaag wêreldbeeld met God daarbo en die bose daaronder, met die mense en die aarde tussen-in, maak net nie meer sin nie. Marx, Freud, Nietsche en Darwin het in die negentiede eeu filosofies met dié teïstiese godsbeeld afgereken. En nou, ‘n honderd-en-vyftig jaar later is die westerse Christendom steeds besig om hierdie insigte spiritueel te verwerk en word daar gesoek na nuwe taal en simbole om daaraan uiting te gee.
Al meer stemme gaan op wat vra vir ‘n dekonstruksie van die supranatuurlike teïsme. Dit beteken enersyds afskeid van ‘n God wat iewers op ‘n ander plek gesetel is en af en toe deur die stratosfeer reis om op die aarde in te gryp. Andersyds behels dit ‘n kreatiwiteit in ‘n intellektuele rekonstruksie van nuwe maniere van glo en doen. Byvoorbeeld dat God in alles en alles in God is. Die universum, die lewe, die geskiedenis en onsself is alles deel van die goddelike werklikheid, maar die Goddelike Misterie is tegelyk ook méér as dit. God is nie ‘n afsonderlike wese nie, maar die allesomvattende Gees. Om te lewe is om deel te wees van die immanente God. En om te glo is om bewustelik toegewy te wees aan God as die grond van ons bestaan; om bewustelik te bely dat ons in God is en om aan dié God oorgegee te lewe. In die woorde van Paulus op die Areopagus: “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27-28).
Met só ‘n verstaan van God en geloof groei daar ‘n toenemende bewustheid van die hier en die nou. God is so naby aan ons soos ons eie asem. Die tradisionele onderskeid tussen die natuurlike en bonatuurlike word toenemend bevraagteken. Alles is van God deurdrenk en die ganse werklikheid word sakramenteel beleef.
Ons moet die moed van ons oortuiging hê om te erken en te aanvaar dat ons nie immuun is teen die nuwe denkwyses oor die wêreld, die wetenskap en godsdiens nie. Frits de Lange, die die Kampense Hoogleraar noem dit “sluipende sekularisasie”. In ‘n oomblik van eerlike refleksie weet ons dat ons reeds afskeid geneem het van ‘n hemel met ‘n vloer en ‘n God op ‘n troon (David Kramer in “Die Duiwel”).
Sommige probeer hierdie sluipende sekularisasie verdryf deur net die ou geloofsbelydenisse met al hoe groter sekerheid te proklameer. En die wat dit waag om eerlik om te gaan met ‘n veranderde verstaan van God en die wêreld en wat ernstig probeer soek na nuwe uitingsvorme vir geloof, word eenvoudig afgemaak as ongelowig en veroordeel as vyande van God en die Christendom.
Vir my is die beter opsie om eerstens eerlik bewus te wees van die verskuiwinge wat daar in ons eie denke en ervaringe plaasvind. En om dit dan tweedens met soveel integriteit as moontlik te verwoord en opreg te soek na alternatiewe maniere om in hierdie tyd in God te glo.
Ons voel ons nie meer verbonde aan die verre God in die hemel nie, maar wel op ‘n vreemde manier verbonde aan die Goddelike Misterie. Ons glo nie minder nie, maar ons glo anders. Geloof vind nou uiting in ‘n “altyd soekende verwondering” (Wilhelm Jordaan in Beeld van 26 Nov. 2008), en in ‘n “liefdevolle sorgvuldigheid met dinge en mense” (Frits de Lange). Alles, die kerkdiens, die kunswerk, die teater, die sportveld, die straat, die vliegtuig, die verrassing en die teleurstelling - alles, word nou beleef as “thin places” (Marcus Borg), Dun plekke wat onverwags en wonderlik as membrane beleef word. Die grense tussen ons en God word op gegewe momente as deurlaatbaar ervaar. Maar dis nie meer gereserveer vir die heilige ruimtes, soos die kerkgebou en die erediens nie. Die werklikheid word sakramenteel en die goddelikheid word in die gewone ontdek.
Dit is juis in die kerstyd dat ons opnuut weer gekonfronteer word met ons tradisionele geloofskonsepte. Sommige mense ervaar hierdie tyd as ‘n sterk herbevestiging van die beproefde konsepte met die beproefde gebruike. Ander vind dit toenemend moeilik om hulle innerlike vervreemding te bly verberg agter tradisionele gebruike. Na my mening kan daar met albei hierdie ervaringswêrelde rekening gehou word in die aanbied van die kersboodskap.
Daar is inderdaad ‘n verskeidenheid maniere hoe die kersboodskap aangebied kan word. Dit kan oorgedra word as ‘n “Hoë besoek” – ‘n buitengewone gebeurtenis in die verre verlede, wat vertel van God wat vir eenkeer die hemelse ruimtes verlaat het en as ‘n mens gebore is. Dan beklemtoon die kersboodskap net die afstand en word die vervreemding nog groter.
Die ander moontlikheid is om die klem te plaas op die ontdekking van die Kersfees-God in die hede. Die kersverhaal vertel dan nie van ‘n God wat eenkeer in die geskiedenis die ruimtereis afgelê het nie, maar ‘n verhaal wat vertel van ‘n God wat die vleeswordende God is. Dan vertel kersfees nie van ‘n goddelike besoek nie, maar van ‘n God wat herkenbaar geword het in die mees onverwagse van menslike gedaantes – ‘n hulpelose kindjie in ‘n stal. God kom nie van ver af, soos Sinterklaas, met ‘n wavrag geskenke, en dan verdwyn Hy weer in sy eie sfere nie, maar raak herkenbaar onder ons as een van ons.
As ons die kersboodskap só hanteer word die kersverhale ook soos “dun plekke”. Ons word daardeur ingetrek oor die drumpel van die wonderwêreld van vertelling, mite en simboliek. Dit steek nie vas by die gedagte van ‘n nostalgiese God wat eenkeer iewers iets wonderliks gedoen het nie, maar vertel van ‘n God wat “Immanuel” is – die immer Teenwoordige. In die woorde van Wilhelm Jordaan: “Dit laat my toe om die eeue oue geloofsbelydenis uit te brei met die mistiek van altyd soekende verwondering; dat ek ander woorde kán en mág vind wat my die troos bring dat ek nie buite die onbegryplike genade van God staan nie.” (Beeld, 26 Nov. 2008).
|
|
Articles - Magazines/Beeld
Author:Julian Müller
Calvyn, Darwin en geloof
Julian Müller
Vanjaar vier ons die 500ste geboortejaar van Johannes Calvyn en die 200ste geboortejaar van Charles Darwin. Is ons hier op twee onvergelykbare en onkruisbare spore, of staan albei in dieselfde tradisie? Kan ons geloof uit beide die nalatenskap van Calvyn en van Darwin put of staan ons in hierdie twee lyne voor ‘n onwrikbare keuse. Óf geloof saam met Calvyn, óf ateïsme saam met Darwin?
Die jaar is ingelei met 600 rooi Londenbusse wat rondry met die advertensie “There’s probably no God. Now stop worrying and enjoy your life.” Dit het weer aanleiding gegee tot ‘n hele “busoorlog” waarin Christengroepe weer teenadvertensies op die busse laat aanbring het. Een daarvan was die aanhaling uit Psalm 53 “The fool hath said in his heart, there is no God.”
Die indruk wat geskep word, onder andere ook deur Richard Dawkins met sy The God delusion, is dat ateïsme die enigste en logiese konsekwensie van Darwinisme is. As jy in evolusie glo, moet jy God verwerp en andersom, as jy in God glo, moet jy evolusie verwerp.
Een ding is duidelik en dit is dat Darwin en die evolusieteorie die Christelike geloof onder geweldige druk plaas. Groter as die druk wat ontstaan het deur die uitvindings van Kopernikus en Galileo. Kopernikus (1473-1543) wat die teorie dat die aarde die middelpunt van die heelal is, nek omgedraai het met die ontdekking dat die aarde om die son wentel; en Galileo (1564-1642) wat ontdek het dat nie die aarde of die son die middelpunt van die heelal is nie, maar dat daar meerdere sonnestelsels is. Hoewel hierdie teorieë die Christendom tot in sy wese geskok het en die manier van Bybeluitleg fundamenteel uitgedaag het, kon dit tog binne geloofskonsepte geakkommodeer word, omdat die idee van die mens as die kroon van die skepping en die beelddraer van God steeds gehandhaaf kon word ten spyte van die nuwe ontdekkings.
Maar met die teorieë van Darwin kom die tradisionele verstaan van die skeppingsverhaal en die ingewortelde geloof dat die mens verhewe is bo die res van die skepping en die enigste draer is van die beeld van God, ernstig in gedrang. Dit word onmoontlik om in ‘n God te glo wat in ses dae alles perfek geskep en georden het, en ook die evolusieteorie te aanvaar. Darwin se teorieë staan skynbaar lynreg teenoor die teorieë soos weergegee in Genesis 1 en 2. Darwin het geleer dat
· Die aarde baie oud is;
· Die plant- en dierespesies nie ewig en onveranderlik is nie;
· Evolusie plaasvind op die basis van vertakking;
· Die mens nie die eindpunt van lineêre en progressiewe evolusie is nie.
Daarom vind die Christendom, wat nog met Kopernikus en Galileo kon saamleef, dit ontsettend moeilik om met Darwin saam te leef. Dit lyk asof ons voor ‘n eenvoudige keuse te staan gekom het: Óf jy glo die Bybel, óf jy glo die evolusieteorie, wat van jou ‘n ateïs maak.
Hierdie oorvereenvoudigde keuse berus egter op ‘n verkeerde verstaan en interpretasie van die Bybel.
Juis daarom is dit so betekenisvol dat die geskiedenis ons vanjaar terugneem na beide Calvyn en Darwin. Dit is ons Calvinistiese erfenis wat ons help om die Bybel met redelikheid en verstand reg te interpreteer volgens die bedoeling van die Bybel. Hoewel daar baie kritiek teen die Calvinisme en veral die uitwasse van die Calvinisme uitgespreek kan word, vier ons in hierdie jaar opnuut die erfenis wat ons van Calvyn het, naamlik dat Godsdiens en rede nie teenoor mekaar staan nie en dat ons geloof ook rasioneel benader moet word. Die Calvinisme voorsien aan ons ‘n teologiese en filosofiese basis op grond waarvan ons die Bybel ernstig opneem en tegelyk ook onderwerp aan kritiese, wetenskaplike denke.
Die krities-denkende teologie het ons geleer dat die Bybel nie gelees moet word as ‘n handboek vir die geskiedenis of die biologie nie. Die Bybel is ‘n geloofsboek wat ons help om onsself met ons vermoëns en beperkinge te verstaan in die lig van die onbegryplike God. Die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 bring vir ons die troos van ‘n God wat oor ons beskik en roep ons om mede-verantwoordelikheid vir die skepping te neem. Dit is nie bedoel om vir ons ‘n detail uiteensetting te gee van hoe die skepping plaasgevind het nie. Ons weet vandag dat daardie geskrifte waarskynlik in die tyd van die Babiloniese Ballingskap ontstaan het en dat die bedoeling was om aan Israel troos en identiteit te gee te midde van ‘n hopelose situasie.
Ons Calvinistiese tradisie help ons om elke Bybelteks ernstig op te neem as die Woord van God en juis daarom te verstaan binne die konteks waarin dit tot stand gekom het en volgens die inherente bedoeling daarvan. Dieselfde tradisie help ons ook om die wetenskap en aanvaarde wetenskaplike teorieë ten volle ernstig te neem en dit eerder met ons geloof te intergreer, as om mense voor onmoontlike en ongeldige keuses te stel. Dit is nie óf geloof óf evolusie nie, maar én-én. Ons kan beide omhels. Ons uitdaging is om ons geloofstaal nuut te verwoord.
Die implikasie is natuurlik dat ons nie sal kan volhou om in ‘n teïstiese God te glo wat ver verwyder van sy skepping ‘n afsonderlike bestaan het nie. Die verhouding tussen God en die skepping blyk vol misterie te wees, wat nie verklaarbaar is met oorvereenvoudigde konsepte soos “kreasionisme” of “intelligente ontwerp” nie.
Net so sal ons nie met oorvereenvoudigde konsepte kan werk oor die verhouding tussen God en mens nie – ‘n God wat die mens goed geskape het, maar magteloos toegekyk het hoe die mens verdorwe het; ‘n God wat straffend en veroordelend sommige begenadig en ander verwerp. Ons sal God moet herontdek as Gees en Liefde wat op ‘n misterievolle wyse in en by ons teenwoordig is; as die God wat in Jesus meely en betrokke is by hierdie wêreld.
Die implikasie is ook dat ons ons geringheid binne die vertakkinge van die skepping besef en tegelyk ons medeverantwoordelikheid as beelddraers van God aanvaar. Die implikasie is verder dat ons nie geloof as geheime en bevoorregte toegang tot God sal sien nie, maar as ‘n werkopdrag om God se koninkryk te laat kom – in die samelewing en in die skepping. So kom geloof en wetenskap naby mekaar. So kan Calvinisme en Darwinisme nie net in dieselfde jaar nie, maar in dieselfde asem genoem word.
|
Powered by AlphaContent 4.0.12 © 2005-2010 - All rights reserved
