1. DIE KERSTYD EN DIE SOEKENDE VERWONDERING
1.1. JULIAN MÜLLER
Een van ons mooiste eietydse kersliedere is Koos du Plessis se Welkom, o stille nag van vrede. Daarin sing ons van ‘n somerkersfees en dit voel onmiddellik veel nader aan ons ervaring van kersfees as ons tradisionle Europese liedere. Dit verwoord ook baie ingeburgerde konsepte en idees oor kersfees op ‘n baie treffende manier. Hoewel in moderne Afrikaanse idioom, praat dit van “eeue-oue taal”, van “die ou verhaal” en van die Seun as ons “grootste Kersgeskenk”. Ek kan nie help om te wonder oor hoe kommunikeer hierdie tradisionele konsepte, selfs in ‘n meer moderne lied, met die postmoderne mens van vandag nie. Hou die kersverhaal en die kersgebruike die geloof lewend of word die geloof juis verdryf deur die nostalgie en die geykte konsepte? Die mens van vandag het afskeid geneem, of is besig om afskeid te neem van ‘n supra-naturalistiese goddelike wese. Hierdie afskeid vind nie altyd op die bewustelike vlak plaas nie. Dit sluip in en sonder dat ons dit besef, is ons besig om anders oor God te dink as in die verlede. Ons vind dit toenemend moeilik om in ‘n soort ruimtereisiger-God te glo – ‘n God wat iewers op ‘n troon sit en van ver af die wêreldgebeure van dag tot dag bestuur; ‘n Hemelse wese met wie ware kontak eintlik nie moontlik is nie; ‘n God wat ligjare van ons verwyder is. Sedert Copernicus en Galileo het die besef geleidelik ingedring dat daar nie meer oor God binne die formasies van die primitiewe wêreldbeeld gedink kan word nie. Die drielaag wêreldbeeld met God daarbo en die bose daaronder, met die mense en die aarde tussen-in, maak net nie meer sin nie. Marx, Freud, Nietsche en Darwin het in die negentiede eeu filosofies met dié teïstiese godsbeeld afgereken. En nou, ‘n honderd-en-vyftig jaar later is die westerse Christendom steeds besig om hierdie insigte spiritueel te verwerk en word daar gesoek na nuwe taal en simbole om daaraan uiting te gee. Al meer stemme gaan op wat vra vir ‘n dekonstruksie van die supranatuurlike teïsme. Dit beteken enersyds afskeid van ‘n God wat iewers op ‘n ander plek gesetel is en af en toe deur die stratosfeer reis om op die aarde in te gryp. Andersyds behels dit ‘n kreatiwiteit in ‘n intellektuele rekonstruksie van nuwe maniere van glo en doen. Byvoorbeeld dat God in alles en alles in God is. Die universum, die lewe, die geskiedenis en onsself is alles deel van die goddelike werklikheid, maar die Goddelike Misterie is tegelyk ook méér as dit. God is nie ‘n afsonderlike wese nie, maar die allesomvattende Gees. Om te lewe is om deel te wees van die immanente God. En om te glo is om bewustelik toegewy te wees aan God as die grond van ons bestaan; om bewustelik te bely dat ons in God is en om aan dié God oorgegee te lewe. In die woorde van Paulus op die Areopagus: “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27-28). Met só ‘n verstaan van God en geloof groei daar ‘n toenemende bewustheid van die hier en die nou. God is so naby aan ons soos ons eie asem. Die tradisionele onderskeid tussen die natuurlike en bonatuurlike word toenemend bevraagteken. Alles is van God deurdrenk en die ganse werklikheid word sakramenteel beleef. Ons moet die moed van ons oortuiging hê om te erken en te aanvaar dat ons nie immuun is teen die nuwe denkwyses oor die wêreld, die wetenskap en godsdiens nie. Frits de Lange, die die Kampense Hoogleraar noem dit “sluipende sekularisasie”. In ‘n oomblik van eerlike refleksie weet ons dat ons reeds afskeid geneem het van ‘n hemel met ‘n vloer en ‘n God op ‘n troon (David Kramer in “Die Duiwel”). Sommige probeer hierdie sluipende sekularisasie verdryf deur net die ou geloofsbelydenisse met al hoe groter sekerheid te proklameer. En die wat dit waag om eerlik om te gaan met ‘n veranderde verstaan van God en die wêreld en wat ernstig probeer soek na nuwe uitingsvorme vir geloof, word eenvoudig afgemaak as ongelowig en veroordeel as vyande van God en die Christendom. Vir my is die beter opsie om eerstens eerlik bewus te wees van die verskuiwinge wat daar in ons eie denke en ervaringe plaasvind. En om dit dan tweedens met soveel integriteit as moontlik te verwoord en opreg te soek na alternatiewe maniere om in hierdie tyd in God te glo. Ons voel ons nie meer verbonde aan die verre God in die hemel nie, maar wel op ‘n vreemde manier verbonde aan die Goddelike Misterie. Ons glo nie minder nie, maar ons glo anders. Geloof vind nou uiting in ‘n “altyd soekende verwondering” (Wilhelm Jordaan in Beeld van 26 Nov. 2008), en in ‘n “liefdevolle sorgvuldigheid met dinge en mense” (Frits de Lange). Alles, die kerkdiens, die kunswerk, die teater, die sportveld, die straat, die vliegtuig, die verrassing en die teleurstelling - alles, word nou beleef as “thin places” (Marcus Borg), Dun plekke wat onverwags en wonderlik as membrane beleef word. Die grense tussen ons en God word op gegewe momente as deurlaatbaar ervaar. Maar dis nie meer gereserveer vir die heilige ruimtes, soos die kerkgebou en die erediens nie. Die werklikheid word sakramenteel en die goddelikheid word in die gewone ontdek. Dit is juis in die kerstyd dat ons opnuut weer gekonfronteer word met ons tradisionele geloofskonsepte. Sommige mense ervaar hierdie tyd as ‘n sterk herbevestiging van die beproefde konsepte met die beproefde gebruike. Ander vind dit toenemend moeilik om hulle innerlike vervreemding te bly verberg agter tradisionele gebruike. Na my mening kan daar met albei hierdie ervaringswêrelde rekening gehou word in die aanbied van die kersboodskap. Daar is inderdaad ‘n verskeidenheid maniere hoe die kersboodskap aangebied kan word. Dit kan oorgedra word as ‘n “Hoë besoek” – ‘n buitengewone gebeurtenis in die verre verlede, wat vertel van God wat vir eenkeer die hemelse ruimtes verlaat het en as ‘n mens gebore is. Dan beklemtoon die kersboodskap net die afstand en word die vervreemding nog groter. Die ander moontlikheid is om die klem te plaas op die ontdekking van die Kersfees-God in die hede. Die kersverhaal vertel dan nie van ‘n God wat eenkeer in die geskiedenis die ruimtereis afgelê het nie, maar ‘n verhaal wat vertel van ‘n God wat die vleeswordende God is. Dan vertel kersfees nie van ‘n goddelike besoek nie, maar van ‘n God wat herkenbaar geword het in die mees onverwagse van menslike gedaantes – ‘n hulpelose kindjie in ‘n stal. God kom nie van ver af, soos Sinterklaas, met ‘n wavrag geskenke, en dan verdwyn Hy weer in sy eie sfere nie, maar raak herkenbaar onder ons as een van ons. As ons die kersboodskap só hanteer word die kersverhale ook soos “dun plekke”. Ons word daardeur ingetrek oor die drumpel van die wonderwêreld van vertelling, mite en simboliek. Dit steek nie vas by die gedagte van ‘n nostalgiese God wat eenkeer iewers iets wonderliks gedoen het nie, maar vertel van ‘n God wat “Immanuel” is – die immer Teenwoordige. In die woorde van Wilhelm Jordaan: “Dit laat my toe om die eeue oue geloofsbelydenis uit te brei met die mistiek van altyd soekende verwondering; dat ek ander woorde kán en mág vind wat my die troos bring dat ek nie buite die onbegryplike genade van God staan nie.” (Beeld, 26 Nov. 2008).
|




