Page 1 of 3
Deur die loop van die eeue, het al hierdie idees en sieninge oor God egter gekulmineer in bepaalde konsepte oor God wat in die tradisie van die Christendom inslag gevind het. Hierdie konsepte oor God word mettertyd so geïnternaliseer dat mense dit nie meer bevraagteken of daaroor wonder nie. Dit word eenvoudig aanvaar as die enigste geldige manier om oor God te dink. Die gevolg is dat ons dit vandag moeilik vind om ons sieninge van God en ons taal oor God te onderskei van God self. Ons is geneig om te aanvaar dat ons denkbeelde van God uit die hemel geval het en nie bevraagteken kan word nie. Dit is eenvoudig hoe God is. So vind baie mense dit eenvoudig Godslasterlik as daar oor God in die vroulik gedink en gepraat sou word. Die feit is dat ons sieninge en beskrywings van God alles interpretasies behels. En hierdie interpretasies is nie net op die Bybel gebaseer nie, maar is ook die produk van ‘n wêreldbeeld en van ‘n bepaalde kultuur. Die beeld wat ons in onsself ronddra van die wêreld en die beeld wat ons het van God is interafhanklik van mekaar en speel die heeltyd op mekaar in. Met wêreldbeeld bedoel ek hier daardie basiese konsep wat ons in ons ronddra oor hoe die wêreld en die heelal lyk en hoe God daarby inpas. Ons prentjie verskil hemelsbreed van dié van die mense van die antieke Bybelse tyd en van die mense in die middeleeue. ‘n Wêreldbeeld is iets wat mens gemeenskaplik met ander mense het. Elke mens het nie ‘n eie individuele wêreldbeeld wat los van die res van jou groep funksioneer nie. Dit is dus tyd-, plek- en veral kultuurgebonde. Dit is daardie prentjie oor die natuur en die heelal en God se plek daarin, wat van kleins af aan jou oorgedra word en waarvolgens jy en jou hele gemeenskap en kultuurgroep julle wêreld sien en beleef. Die Antieke Wêreldbeeld is die wêreldbeeld wat in die Bybel gevind word. Hiervolgens het elke ding op die aarde ‘n hemelse ekwivalent en andersom. As daar ‘n stryd op aarde is, moet daar op een of ander manier ook ‘n soortgelyke stryd in die hemel wees tussen die magte van goed en kwaad. So was oorloë dus net ‘n weerspieëling van wat in die hemelse ryk aan die afspeel is. En dit wat op die aarde gebeur het tussen mense en tussen groepe bly nie maar net hier nie, dit word voortgesit en besleg op die terrein van die gode. Hierdie wêreldbeeld was ‘n drielaag- wêreldbeeld. Die beeld van die aarde was dié van ‘n plat skyf wat op die chaotiese waters dryf, maar tog op pilare gevestig is. Onder die aarde is die waters waar die magte van chaos en duisternis heers. Bokant die aarde is die plek waar die gode woon en waar daar ook waters dreig. Hierdie boonste waters word deur die hemelgewelf wat soos ‘n blou koepel is, van die aarde weggehou. Slegs as die sluise van die hemel oopgetrek word, kom die waters van bo af neer en dan bring dit heilsame reën of dit bring verwoestende vloede. Die woonplek van God is in die boonste verdieping en die onderste kelder verdieping is die plek van die bose. Hierdie wêreldbeeld is nie spesifiek bybels nie. Dit is die antieke wêreldbeeld wat heersend was en die prentjie voorsien het van waaruit die bybelskrywers hulle weergawe van die werklikheid geskryf het.
|

