| Nuwe boek |
Julian Muller, Passie en Spasie. Griffel Uitgewers 2009 |
Page 2 of 3
Die Geestelike Wêreldbeeld het in die tweede eeu na Christus ontstaan en dit het die Judeo-Christelike wêreldbeeld verander van een waarin die skepping basies goed is, na een waarin die gevallenheid van die materiële wêreld voorop staan. Daar het ‘n sterk skeiding gekom tussen die materiële en die geestelike. Die spirituele is goed en die materiële is sleg. Die wêreld is ‘n gevangenis waarin dit wat goed is in die hemel, op die aarde vervalle geraak het. Die geestelike het vervorm geraak binne die materiële en die liggaamlike. Die konsekwensie was onder andere dat seks, die liggaam en die aardse lewe in die algemeen as boos gesien is en die mens se spirituele taak is om sy gees uit hierdie gevangenis bevry te kry. Dit was op die basis van hierdie wêreldbeeld wat die kloosterbeweging en die selibaat gebou is. Die hoogste strewe binne so ‘n siening van die wêreld is natuurlik om jouself teen te gaan en op so min as moontlik punte aan die aardse, materiële en natuurlike behoeftes toe te gee. Die Materialistiese Wêreldbeeld het prominent na vore getree in die tyd van die Verligting. Dit is in baie opsigte die antitese van die vorige. Hiervolgens word die spirituele ontken en gesien as ‘n illusie. Ons as mense is hiervolgens slegs ‘n samestelling van chemiese stowwe en atome en wanneer ons sterf is dit al wat van ons oorbly. In minder negatiewe terme sou na hierdie soort wêreldbeeld as die Wetenskaplike Wêreldbeeld verwys kon word. Na Copernicus en met die ontwikkeling van die natuurwetenskaplike insigte oor die fisiese wêreld en die heelal, kon die antieke siening van die heelal net nie meer standhou nie. Die een wetenskaplike ontdekking na die ander, met waarskynlik die formulering van Darwin se evolusieteorie as die ingrypendste, het gevolg. Die wetenskap het die wêreld ontluister van magiese magte en die indruk by die mens gelaat dat alles ontleed, geken en beheer kan word. Die Teologiese Wêreldbeeld ontwikkel in reaksie op die materialistiese wêreldbeeld. Dit behels enersyds ‘n erkenning dat die "hoër werklikheid" nie geken kan word deur menselike sintuie nie, en andersyds is dit ‘n poging om daardie werklikheid eenkant te hou vir godsdiens en teologie. Die geestelike werklikheid word immuun verklaar teenoor die eise en teeneise van die wetenskap.. So ontwikkel ‘n skisofreniese teologie wat die aardse en die hemelse uitmekaar hou. ‘n Kerk en teologie wat die ontdekkings en teorieë van wetenskaplikes met ‘n gelatenheid aanhoor en terselfdertyd doodgewoon voortgaan om op Sondae en by jeugbyeenkomste die teendeel te verkondig. Die wetenskaplikes het byvoorbeeld allerhande teorieë oor evolusie, maar Sondae word die "waarheid" van Genesis 1 en 2 gepreek en daar is geen ernstige poging om die uiteenlopende konklusies te integreer nie. Die tyd waarin ons leef is kompleks en interessant. Meer as ooit in die verlede het ons ‘n oorsig oor hierdie wêreldbeelde en die vermoë om uit ‘n verskeidenheid van idees en konsepte oor die wêreld te kies. So ontwikkel die Integrale Wêreldbeeld. Hierdie wêreldbeeld word uit verskillende oorde gevoed: die nuwe fisika, nuwere ontwikkelinge in die teologie, die proses-filosowe en Oosterse en Afrika wêreldbeelde, om maar sommige te noem. Hiervolgens word hemel en aarde gesien as aspekte van dieselfde werklikheid. Die spirituele word nie ontken nie, maar gesien as integrale deel van die totale werklikheid. Binne hierdie beskouing word ontdek dat die taal van die antieke wêreldbeeld gebruik maak van "spatial imagery". Begrippe soos "bo" om na die goddelike en hemelse te verwys, en "onder" om na die ruimtes van die bose te verwys, moet metafories verstaan word. Hierdie nuwe wêreldbeeld maak dit nodig om godsdienstige kategorieë te herdink en herformuleer. Dit is geen eenvoudige taak nie. Omdat al die konsepte van werklikheid en waarheid binne die Christelike godsdiens verwoord is op die basis van die Teologiese Wêreldbeeld, en selfs die Antieke Wêreldbeeld gevorm is. Die hedendaagse Christene, aan die ander kant is toenemend besig om te dink, besluit en doen volgens die prentjie van die Integrale Wêreldbeeld. Die nuwe wêreldbeeld maak nie meer voorsiening vir ‘n hiërargiese, van-bo-na-onder hantering van waarheid nie. Die klem verskuif weg van ‘n eenmaal klaar geformuleerde waarheid, na ‘n voortdurende ontdek van waarheid. Die klem verskuif van waarheidskonsepte na die proses van soeke na die waarheid. Konsepte soos onsekerheid, chaos, twyfel, teenstrydigheid, wat binne die Teologiese Wêreldbeeld alles as negatief beoordeel is, word nou ontdek as betekenisvolle aspekte van menswees..
Only registered users can write comments!
Powered by !JoomlaComment 4.0 beta2
|
|||||||||||||||||
Julian Müller is professor en hoof van die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ook deeltydse predikant wat elke week baie ure in die pastorale spreekkamer deurbring.
