English Arabic Bulgarian Chinese (Simplified) Chinese (Traditional) Croatian Czech Danish Dutch Finnish French German Greek Hindi Italian Japanese Korean Norwegian Polish Portuguese Romanian Russian Spanish Swedish Catalan Filipino Hebrew Indonesian Latvian Lithuanian Serbian Slovak Slovenian Ukrainian Vietnamese Albanian Estonian Galician Hungarian Maltese Thai Turkish Persian Afrikaans Malay Irish Welsh Icelandic

Picture of Julian Muller Julian Müller is professor en hoof van die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ook deeltydse predikant wat elke week baie ure in die pastorale spreekkamer deurbring.

Sunday, 01 August 2010
Nuwe boek

Julian Muller, Passie en Spasie. Griffel Uitgewers 2009

Article Index
PANENTEÏSME: ‘n nuwe verstaan van God vir ‘n nuwe tyd?
PANENTEÏSME (Deel 2)
PANENTEÏSME: (Deel 3)
All Pages

Die postmoderne mens voel hoedat die kettings van hom/haar afval. Die verslawing van konsepte wat van bo afgekondig word, volgens die Teologiese Wêreldbeeld, word nou verbreek. Eie ervaringe kry geldigheid en mense ontvang vrymoedigheid om daaroor te praat en aanvaar nie meer die konsep van ‘n "hoër werklikheid" wat voorskriftelik vir die aardse lewe funksioneer nie. Die etiese en morele word binne die Integrale Wêreldbeeld nuut bedink en onderhandel.

Daar is ‘n dringende behoefte om in taal, metafore en kategorieë te praat en te preek ten einde hedendaagse mense by te staan in die verstaan van die evangelie binne hierdie nuwe wêreldbeeld.

Wanneer die kerk en teologie nie daarin slaag nie, bly daar vir die soekende Christen net twee opsies oor:

 

  • ‘n Nog meer fundamentele versterking van die Teologiese Wêreldbeeld. Mense is geneig om bedreig te voel deur die tendense van die postmodernisme en dan terug te gryp na ou sekerhede. Hoe groter die onsekerheid binne die spiraal van die nuwe wêreldbeeld, hoe meer word gesoek na die sekerheid wat geleë is in die teenoorstaande werklikheid. Daarom hoe meer onheilspellend die koerant word, en hoe onduideliker die kerk se boodskap, hoe sterker word teruggeval op die letterlike en eenvoudige verklaring van die Bybel, met konsepte soos God wat bo ons is en vandaar af moet ingryp in ons aardse werklikheid.
  • Die tweede opsie is om kerk en teologie nie meer ernstig op te neem nie. As die kerk dan nie daarin kan slaag om intelligent saam te praat binne die kategorieë van die Integrale Wêreldbeeld nie, word hy nie langer as ‘n waardige gespreksgenoot beskou nie. Dan het die kerk vir baie mense nog net lastigheidswaarde, want die kerk verstaan skynbaar nie waarom dit gaan nie.


Ek beywer myself graag vir ‘n alternatiewe opsie. Hiervolgens moet ons eerstens eerlik met die probleem omgaan en erken dat die veranderde wêreldbeeld waarmee ons vandag funksioneer, maak dat ons nie meer ewe gemaklik met die Godsbeeld wat uit ander wêreldbeelde gebore is, kan saamleef nie.

Binne al die wêreldbeelde tot en met die integrale wêreldbeeld, het dit gepas om ‘n idee van God en beelde oor God te hê, wat Hom buite die mensewêreld plaas. ‘n Deïstiese verstaan, waarvolgens God die veraf Deity is wat nie in enige persoonlike verhouding tot die heelal staan nie en net die Oerbron van alles is, volg vanself uit ‘n drie-laag of twee-laag wêreldbeeld. Die Teïsme (gebaseer op die Bybelse Theos) bou weer op die teologiese wêreldbeeld, waarvolgens God ‘n meer persoonlike God is, maar steeds veraf sy eie ruimte bewoon. 

Dit is eers met die aanbreek van die moderne era dat die werklikheid van ‘n geïntegreerde of integrale wêreldbeeld die mense se bewussyn begin vul het en mense stadig maar seker ophou om te dink in terme van die ou dualistiese verstaan van alles. Binne so ‘n integrale wêreldbeeld word dit al moeiliker om aan God in die ou Teïstiese kategorieë te dink. Vir die moderne mens is God nie meer "Daar Bo" nie, maar hier teenwoordig. Die hedendaagse Christen wil vashou aan die basiese Bybelse idees oor God as ‘n God van liefde wat in Christus na ons uitreik, maar soek na taal om oor God te dink en te praat wat pas by die integrale beeld van die bestaan. 

Hoe pas God in so ‘n wêreldbeeld in? Die konsep panenteïsme is waarskynlik die resultaat van ‘n soeke na taal wat kan uiting gee aan die Bybelse geloof en tegelyk getrou bly aan ‘n nuwe verstaan van die wêreld. Dit wil voorkom asof die term die eerste keer gebruik is deur Karl Christian Friedrich Krause (1781-1832). Daarna het dit tot vandag in verskillende filosofiese en teologiese sieninge gefigureer.

Panenteïsme is nie dieselfde as die panteïsme nie. Inteendeel, dit is juis enersyds ‘n afgrensing teenoor die teïsme en andersyds teenoor die panteïsme. Panteïsme beteken doodeenvoudig: God is alles. Die konsekwensie van die panteïsme is dat God ook vasgevang is in alles en dat daar niks oorbly van die transendente, die andersheid van God nie. Teïsme, aan die ander kant lê weer die klem so sterk daarop dat God buite alles is en nie vasgevang is in sy eie skepping nie, dat dit moeilik te rym is met die immanente, die siening van God as inherent, binne-in teenwoordig. Daarom dat die teoloog Paul Tillich die behoefte uitgespreek het om ‘n Godsbeeld te ontwikkel "that goes beyond theism."

Die panenteïsme daarenteen beteken: God is in alles en alles is in God. Hiervolgens is God nie vasgevang is die skepping nie. Panenteïste glo dat God teenwoordig is in alles, maar tegelyk ook meer is as die heelal. Dit verwoord ‘n poging om getrou te bly aan beide die transendente én die immanente verstaan van God. 

Uiteindelik moet ons aanvaar dat al ons pogings om oor God te praat en om die verhouding tussen God en die skepping in taal vas te vang, gebrekkig is. Als is voorlopig. Daarom sit ek ook ‘n vraagteken agter die titel van hierdie artikel. Ek vra bloot die vraag of die konsep van panenteïsme nie moontlik kan help om vir die mens van vandag wat met ‘n integrale wêreldbeeld funksioneer, taal te voorsien om sinvol en Bybelgetrou oor God en wêreld te dink en te praat nie? 








Comments
Search
Only registered users can write comments!
G.D.J. Dingemans |86.81.90.xxx |Y-m-d H:i:s
Ik wil reageren op het artikel van Julian Müller, maar ik heb zijn e-mail adres
niet! :angry:
 
JoomlaWatch Stats 1.2.7 by Matej Koval

Countries

73.9%UNITED STATES UNITED STATES
4.5%NETHERLANDS NETHERLANDS
3.4%UNITED KINGDOM UNITED KINGDOM
3.1%AUSTRALIA AUSTRALIA
2.2%INDIA INDIA

Online Shopping

Click on the shopping basket to buy electronic publications online / Druk op die inkopie ikoon om elektroniese publikasies aanlyn te koop